vry my

Deuntjie van Eerste Begeerte (’n Lorca-vertaling)

In die groen môre
Wou ek ’n hart wees.
’n Hart.

En in die vars oggend
Wou ek ’n nagtegaal wees.
’n Nagtegaal.

Siel,
word oranje-kleurig
Siel,
word die kleur van liefde.

In die helder oggend
Wou ek myself wees.
’n Hart.

En teen die aand se einde
Wou ek mý stem wees.
’n Nagtegaal.

Siel,
word oranje-kleurig
Siel,
word die kleur van liefde.

Murakami3

verlei

elipses…

met pen te lank op papier
dring die ink deur
bloei inmekaar in
’n groot swart kol
’n fokken gemors

haar mooi mond
oë soos die see
’n uitnodiging
is skedel deur
vroetel langs verstand verby

pad afskry soos ’n besetene
onderdeur die fyn rek van haar onderklere

20-iets

die koppenend van Tafelberg
Kaapstad
met plankbeddens wat kruen onder daddy-issues
hardehout en dronkbestuur

20-ietse
bymekaarskraap-salarisse
kreatiewe maybe-mense

die ousie maak die wasgoedmandjie leeg
maak skoon
’n Bergie vrek vanaand van die koue
car-guards wat flirt; en Facebook status updates vir laaiks

vuil woonstelle,
skottelgoed soos berge
en duur antieke meubels
geleen by ma.

Dommeling

dalk sal ons vir altyd
dommel in ‘n droom

dalk bestaan die straathoek buite my local bar
waar ek jou eendag tog weer ontmoet,
nie.

En wat as ek en jy verewig dommel in ‘n droom?
Dalk was dit altyd net ‘n droom.

halfkind

ek maak vir jou ‘n halfkind
aanmekaar gestik
met naald
(en gare)

‘n oog, blou soos myne
volmond
sonskynkop
handjies, voetjies en verstand
tieties wanneer sy groot is

ek maak vir jou
‘n halfkind
‘n snotterige baba
glimlagkop
deurmekaarkop-tiener
‘n grootmens
‘n mens

sien,
ek maak vir jou

‘n halfkind
elke nag
met naald
(en gare)
stik ek vir jou ‘n wonderkind
‘n wonder-oor-kind
ek gee vir jou my halfkind.

fin.

sulke tyd vir ons
krane toedraai
terugdraai
laagwater –
en skulpe bly agter

ek wil eerder dig
oor Kaapstad
Paternoster
film in die kamera
patroon van ‘n rok

maar ek’s die moer in

en die wind skep deur jou hare
en ek ruik jou oral
en die wind skep deur jou hare
en ek ruik jou oral

oral.

15 (kmm2)

hier’s wat ek weet:
15 minute kan rek
en krimp
en skuur teen verstand
soos ‘n kat na
lyf warmlê op die vensterbank

15 minute is genoeg
vir omdraai
wegdraai
deurmekaar draai

terugdraai
inlê soggens
verkeer vang

daar lê 15 minute tussen ons saamgevlegde voete

9.8.11

ouma,

die komma hang te lank op kaal papier…

wat sê ’n mens dan
as daar nie meer woorde is nie
as klank ook opdroog
as daar nie meer hande is om vas te hou nie

ek wil ‘skuus sê vir die rooinaellak wat
ek gedra het toe ek totsiens kom sê het
(ek onthou hoe jy ek klein was gesê het dit lyk aaklig)
dankie vir roomys-ontbyt
wafels vir lunch
Britbaai-vakansies
’n poep-grap, hard lag

jy’t my in herken in die laan
soos jy gesê het jy sou,
al raak ek hoe groot
en jy
hoe oud

die klein eenvoudige goed,
dít sê mens
dís wat ons onthou –

pekaneutbome
die mossienes op die plaashuisbalkon
gehekelde komberspatrone

mag die miswolke altyd soggens
rol oor Simonsberg
mag die son elke middag
deur die akkerbome bars
en mag die digbundels volop wees

tot ons mekaar weer raakloop in die laan…

kmm 1

luister na joanna newsom
van bere en balonne
karate-aandetes
maar jy weet. natuurlik.

ek roer deesdae gereeld
jou stem in my tee in
klingel-klingel so
saam met die te-e-le-pel

ruik jou in woorde
bedompige wasgoed
my plaashuis duvets
van toe ek kind was
a-
sem in

jy weet, natuurlik
van linte
en perskes
en walvisse?
soos vingers
en vel
en swaar slaapkamer oë

voel jy soms as ons saam lê
hoe jou vel uitrek en deurskuur
soos die moue van ‘n ou trui
wat lekker dra

Design a site like this with WordPress.com
Spring weg